Fasiliteite

Skoolterrein

Laerskool Park se skoolterrein is seker een van die min skole wat kan spog met so ‘n pragtige ligging en uitsig.

Daarmee saam bied die terrein ook vele uitdagings.

Die skoolgeboue en terrein word opgradeer en verfraai soos wat die nodige fondse beskikbaar word. Sedert Mnr. Du Toit aan bewind is, is die Pre-Primêr se speelterrein en sportgronde ontwikkel. Die sportvelde, netbalbane en tennisbane is opgeknap asook die ingang na die sportvelde. Tafeltjies en bankies word op die speelterrein aangebring en die Multi-funksionele gebou word opgerig. Meneer se drome en planne moet nooit ophou nie!

Baie dankie aan die persone en instansies wat hiertoe bygedra het. Ons is spoggerig oor ons mooi skool en dit dra by tot die trots wat ook in ons leerders is. Kontak gerus die skool indien u ‘n bydrae wil lewer.

Biblioteek

“Lees is vir die brein soos wat oefening is vir die liggaam.” – Sir Richard Steele

Die Biblioteek van die skool het in 2020 ‘n gedaanteverwisseling ondergaan en beskik oor ‘n wye verskeidenheid van boeke en naslaanbronne.

Die opgradering van die skoolbiblioteek het weer ‘n liefde vir lees by die leerders aangewakker.

Die mediakomitee, wat bestaan uit tien graad 6 en 7-leerders, help om die gebruik van die mediasentrum vlot te laat verloop.

Leerders is welkom om die Mediasentrum daagliks gedurende eerste pouse of Maandae en Woensdae om 14:00 – 15:00 te besoek vir die uitleen van boeke.

Rekenaarsentrum

In die tegnologiese wêreld waarin ons leef is dit lankal nie meer moontlik om inligtingstegnologie op skool valk te vermy nie. Dit is vir hierdie rede dat ons by Laerskool Park vir ons leerders gereelde toegang gee tot ons rekenaarlokaal.

Ons is bevoorreg om oor twee volledige rekenaarsentrums te beskik. Die grondslagfase en seniorfase se lokale bestaan elk uit 40 rekenaars wat toegerus is met sagteware wat daarop gemik is om leerders skolasties te ontwikkel.

Hierdie sagteware sluit in:
  • Cami Suite
  • Cami Maths
  • Cami Perceptual
  • Cami Reader

Verder is daar ook Microsoft se office pakkette wat die leerders kan gebruik vir die uitvoering van take.

Beide sentrums het internet toegang wat gebruik kan word vir navorsing. Toegang tot die internet word deur die WKOD beheer, dus kan u verseker wees dat die leerders se toegang streng beperk word.

Musieksentrum

’n Plek om sang te gee het dringend noodsaaklik geword.

Sang was in stoorkamers buite die skool aangebied. Om kostes te bespaar was daar allerhande slim planne uitgedink om die Emil Scheepers-sangsentrum, beter bekend as die Bloukamer, te bou.

 Baie kinders het die genot gesmaak om daar sang te hê!

So was Philip van Schalkwyk, Schalk Brits en Dieter Voigt onder andere van dié wat daar was vir sang. Gewoonlik moes ’n juffrou met ’n kwaai oog klas gee. Sang was so lekker ontspannend, maar baie lekker om streke uit te haal.

Die Bloukamer word daagliks benut waar Parkies hard aan hul sangtalente en op hul blokfluite oefen.

Laboratorium

Die skool se wetenskaplaboratorium is vir menige leerder ‘n opwindende ervaring. 

Hier word die praktiese deel van natuurwetenskappe vir die leerders aangebied.  Die uitvoering en resultate van eksperimente word vir die leerders ‘n werklikheid. 

Die laboratorium beskik oor die nodige apparaat om eksperimente volgens die KABV te doen.  Dit het ook verskeie modelle en voorbeelde van ons sonnestelsel, beendere, skedels van diere en praktiese take van leerders.  Daar is ook ‘n vertoonkas waar leerders menige diere (van ‘n vlermuis tot varkfetusse) kan besigtig. 

Hopelik prikkel hierdie laboratorium die leerders se nuuskierigheid en sluit wêrelde van ontdekkings oop.

Snoepie

Laerskool Park se snoepie
word met trots genoem die MA-TROSIE.

Kom vul jou kosblik met lipleklekker kos
dit sal geen leemte in jou magie los.

Ook lekkernye te kies en te keur
wat soek ‘n energieke kind nou meer.

‘n Koeldrankkas om jou dors te les
dan lewer jy na pouse jou bes.

Vir meer navrae kontak:
Thea van der Linde
073 083 0666

Ma-Trosie Spyskaart

Maandag: Ham en Kaas roosterbrood
Dinsdag: Pizza’s
Woensdag: Hoender ‘Wraps’
Donderdag: Pasteie
Vrydag: “Hamburgers”
Elke dag: “Slaptjips” en ‘tjiprolls’

Bestel ook heerlike “cupcakes” of koeke vir enige geleentheid.