Kultuuraktiwiteite

Revues

Revue 2019 - "The Greatest Show"

Ons revue, gebasseer op die film “The Greatest Showman”, was ‘n produksie van hoogstaande gehalte.  Dit was voorwaar ‘n samevatting en erkenning van ons kinders se vele talente.

Die mooiste musiek, sang, dans en drama, dekor en kostuums (die beste ooit!!) het ons skoolsaal gevul vanaf 12 – 16 Augustus 2019.

Die lewe van PT Barnum en sy drome het elke leerder en ook ons ouerkorps aangegryp en geïnspireer.

Bedankings en lof is ontvang uit onverwagte oorde soos ons buurdorpe en selfs van grootouers uit ander provinsies.

Dankie nogmaals aan almal wat so hard gewerk het om van hierdie revue ‘n onvergeetlike produksie te maak!

"Circles of Life"

Revue 2015 - "Circles of Life"

Ons revue van 2015 het vir ons aan die hand van die klassieke verhaal “Lion King”, weer herinner aan die sin van die lewe.

Verskillende emosies van humor, angs en hartseer is vervleg met die boodskap van hoe die “goeie” tog op die ou einde die “slegte” oorwin!

Asemrowende kostuums en pragtige musiek, tesame met oortuigende toneelspel het van ons revue ’n onvergeetlike ondervinding gemaak! Elke kind van Laerskool Park het aan hierdie skouspel deelgeneem.

Met die hulp van ons wonderlike ouerkorps se talente en hulp, waarsonder ons dit nie sou kon doen nie, was die projek ‘n reuse sukses.

Eisteddfod

Mosselbaai Eisteddfod

In vandag se wêreld van rekenaars en tegnologie, voorsien die Eisteddfod ‘n geleentheid aan die leerlinge om hul kreatiwiteit te ontwikkel en om blootgestel te word aan die kunste.

Eisteddfod-doelstelling

Om deur gepaste kategorieë ‘n basiese struktuur vir optrede en beoordeling daar te stel wat aan die wydste spektrum deelnemers ‘n optree-geleentheid bied. 

Kategorieë:

  • Woordkuns
  • Visuele kuns
  • Musiek
  • Sang

Slegs top presteerders in ‘n afdeling word in aanmerking geneem by die keuse van deelnemers aan die Gala-aand.

“Use the talents you possess,
for the woods would be very silent,
if no birds sang except for
the very best.”

Babbelaand

Ons grootouers het geglo:

“Kinders moet gesien word, maar nie gehoor word nie.”

Ons glo:

“Kinders moet hulle sê kan sê en hulle moet weet hoe om dit te sê!”

Die doel van ons babbelaande

  • Algehele verbetering in die gehalte van mondeling.
  • Onderrig in die vereistes vir ‘n debatteerbare toespraak.
  • Om jong leerders so vroeg as moontlik, so veel as moontlik geleentheid te gee om voor ‘n gehoor op te tree.

Hoe dit werk

Elke leerder moet ‘n toesprakie voorberei. Ouers se hulp is dus noodsaaklik. Die toespraak moet aan die voorgeskrewe riglyne voldoen en by die tema pas. Elke leerder kry in sy/haar klas geleentheid om die toespraak te lewer. Die onderwyser gebruik ‘n eenvormige assesseringsrubriek om leerders te assesseer vir ‘n formele assesseringspunt.

Uit elke klas word drie leerders aangewys om aan die Babbelaand deel te neem. Tydens hierdie opwindende aand word ouers en grootouers uitgenooi en daar is ook beoordelaars wat na die gekose leerders luister.

Redenaars

Die Babbelaande wat ons by Laerskool Park hou, motiveer kinders om deel te neem aan die uiters strawwe kompetisies wat aangebied word deur die ATKV, Radikale Redenaars en Oppie-tong-af.

Baie van ons leerders neem met groot sukses aan hierdie kompetisies deel. Hulle moet baie ekstra ure oefen voor hierdie kompetisies.

Ons het al verskeie nasionale en streekswenners opgelewer.