Seniorfase

Vanaf graad 4-7 vind vakonderwys by Laerskool Park plaas. Dit gee ons die geleentheid om die beste persoon moontlik in elke graad te gebruik om ‘n spesifieke vak aan te bied. Dit gee ook die personeel geleentheid om die vakgebied waarvoor hulle ‘n liefde het, met passie, positiwiteit en kreatiwiteit aan te bied.

Vakke

Tale

Afrikaans word as Huistaal en taal van onderrig by Laerskool Park gebruik. Engels word as die Eerste Addisionele Taal aangebied.

Die volgende aspekte word in tale aangespreek:

  • Luister en praat
    Deur effektiewe luister- en praatstrategieë kan leerders inligting insamel en sintetiseer, kennis opbou, probleme oplos, idees uitdruk en menings uitspreek.
  • Lees en kyk
    Goedontwikkelde leesvaardighede is oor die hele kurrikulum belangrik vir suksesvolle leer asook vir volle deelname in die gemeenskap en binne die werksopset.
    Skryf en aanbied
    Skryf is ‘n kragtige instrument vir kommunikasie wat leerders toelaat om gedagtes en idees uit te bou en duidelik daaroor te kommunikeer. Gereelde skriftelike aktiwiteite oor ‘n verskeidenheid tekste, take en vakke, stel leerders in staat om funksioneel en kreatief te kommunikeer.
  • Taalstrukture en –konvensies
    Goeie woordeskat- en grammatikale kennis lê die grondslag vir vaardigheidsontwikkeling in luister, praat, lees en skryf.

 

Leerders van graad 4-7 neem ook deel aan ons eie Babbelaand wat ‘n redenaarskompetisie is. Dan kry leerders ook die geleentheid om aan die ATKV-redenaarskompetisie deel te neem.

Wiskunde

By Laerskool Park kweek ons die nodige selfvertroue en bevoegdheid om enige wiskundige situasie te hanteer, sonder om deur ‘n vrees vir wiskunde gekniehalter te word asook ‘n gees van weetgierigheid en ‘n liefde vir wiskunde. Die ontwikkeling van hoër denkvlakke om probleme op te los word ontwikkel asook die toepassing van wiskunde in alle daagse situasies.

Natuurwetenskappe

In die wetenskapklas stel Laerskool Park ten doel om:

  • Nuwe kennis en begrip van die wêreld rondom ons en van natuurlike verskynsels na te jaag.
  • Verstaan van die natuurlike wêreld.
  • Ontdek deur die uitvoering van ondersoeke.
  • Maak van produkte deur ontwerp, uitvindings en produksie.
  • Analise, veralgemening en die skepping van teorieë.

 

Die graad 7-leerders neem deel aan die jaarlikse Astro Quiz kompetisie.

Sosiale Wetenskappe

Geskiedenis

By Laerskool Park stel ons ten doel om die leerders die volgende aan te leer:

  • ‘n Belangstelling in en genot van die studie van die verlede.
  • Kennis, begrip en waardering van die verlede en die kragte wat dit vorm.
  • Die vermoë om ‘n proses van historiese ondersoek te onderneem wat gebaseer is op vaardighede.
  • ‘n Begrip van historiese konsepte, met inbegrip van historiese bronne en getuienis.
  • Die gebruik van ‘n wye verskeidenheid bronne om take te voltooi.

Geografie

Laerskool Park beoog om die volgende by ons leerders te ontwikkel:

  • ‘n Goeie algemene kennis van die plekke en die natuurlike kragte wat op die aarde in werk.
  • Die interaksie tussen die samelewing en die natuurlike omgewing verstaan.
  • Omgee vir hul planeet en die welsyn van almal wat daar op woon.
  • Met ‘n verskeidenheid van bronne kan werk en verstaan, insluitend kaarte, data en foto’s.
  • Meer uitvind oor plekke, mense, gebeure en kwessies met behulp van verskillende bronne, bv. boeke, mense, foto’s, die internet.

Lewensvaardigheid 

Hierdie vak bied aan leerders die geleentheid om die gesondheidsvoordele van oefening te geniet en om sosiale vaardighede wat met deelname aan liggaamlike opvoeding gepaardgaan, te ontwikkel. Dit lei ook leerders om ingeligte en verantwoordelike besluite oor hul gesondheid en omgewing te neem en tot kreatiewe, ekspressiewe en innoverende individue te ontwikkel.

Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

Ekonomiese en Bestuurswetenskappe beoog om:

  • Leerders se vaardighede te ontwikkel om die doeltreffende gebruik van verskillende hulpbronne te hanteer om mense se behoeftes en begeertes te bevredig.
  • Vir leerders leiding te gee om krities na te dink oor die impak van hulpbronbenutting op die omgewing en op mense.
  • Leerders te leer om die doeltreffende bestuur van skaars hulpbronne te hanteer om maksimum winste te bereik.
  • Vir leerders leiding te gee met behulp van take wat die idee van volhoubare ekonomiese groei en die ontwikkeling van hulle gemeenskappe bevorder.

Tegnologie

Tegnologie as ‘n vak dra by tot leerders se tegnologiese geletterdheid deur hulle geleenthede te bied om:

  • Spesifieke ontwerpvaardighede om tegnologiese probleme op te los, te ontwikkel en toe te pas.
  • Die begrippe en kennis wat in tegnologie gebruik word te verstaan en om hulle verantwoordelik en doelgerig te gebruik.
  • Die interaksie tussen mense se waardes en houdings, tegnologie, die samelewing die omgewing te waardeer.
  • Probleme op kreatiewe maniere op te los.
  • Om bestaande produkte en prosesse te evalueer en om hul eie produkte te evalueer.
  • Deur praktiese projekte, ‘n verskeidenheid tegnologiese vaardighede (ondersoek, ontwerp, maak, evalueer en kommunikeer) wat by verskillende leerstyle pas, te gebruik.