Vanuit die Skipperkajuit

Dream it, Believe it and Achieve it

Covid-19 het beslis die onderwys wat ons geken het op verskeie maniere verander. Die pandemie het ons uitgedaag om anders te dink oor onderwys en so ook is die gapings in ons samelewing uitgewys. Die een ding wat soos ‘n paal bo water uitgestaan het, is die feit dat goeie funksionele skole die behoud van sukses was gedurende hierdie pandemietydperk. Hierdie tyd verlede jaar sou niemand daaraan kon gedink het wat op ons wag vanaf Maart 2020 nie. Ons het met opgewondenheid uitgesien na 2021 en weer is ons met uitdagings gekonfronteer. Weereens moes planne beraam word hoe om die aanslag van COVID-19 te bestuur.

Dit het geweldige uitdagings gebied en groot druk op die onderskeie vlakke van die samelewing uitgeoefen, onder andere ook die onderwys. Skoolhoofde en skoolbeheerliggame was gekonfronteer met aanpassings wat hulle aan hul beleide moes maak of toevoegings tot hul bestaande beleide. Begrotings van skole moes hersien en herprioritiseer word omdat die aankoop van ontsmettingsmiddels en maskers nie lynitems was nie. Die uitwerking op veral die ekonomie en die onderwys was vernietigend en die gesondheidstelsel het ’n knou weg met baie gesondheidswerkers wat met hul lewens geboet het. Onderwysers wat ook op die voorste linie was en steeds is, het ook die bedreiging ervaar.

Daar was geen eenvoudige antwoord op die vraag of die uitstel van die heropening van skole geregverdig was nie en onder watter omstandighede dit moes open. Die vraag was dus nie wanneer skole veilig gaan wees van COVID nie, maar hoe die risiko’s wat daarmee gepaard gaan, hanteer gaan word.

Intussen word onderwysers en skoolhoofde toegegooi onder administratiewe rompslomp wat hulle daagliks agter hul lessenaars en tafels vasgekluister hou. Daar is groot twyfel of die administratiewe las werklik tot gehalte-onderrig in die klaskamer lei. Skoolhoofde volg dikwels ’n oorlewingstrategie van “Ja, Meneer, amen, Meneer”, sodat dit afgetik kan word. Dit skep ’n valse beeld van kwaliteitonderwys, valse personeelwelsyn en valse effektiwiteit – en almal hoër op rapporteer hoe goed dit met skole en onderwys in die breë gaan. Dit maak ’n klugspel van onderwys en dra nie by tot die daarstelling van uitnemendheid in skole nie.

Met die eiesoortige uitdagings wat COVID-19 bring en hoe paraat skole moet wees om onderrig en leer in hierdie omstandighede te laat gedy, moet skoolhoofde en beheerliggame die ruimte en vryheid hê om op kernbesigheid te fokus en nie op ’n administratiewe syspoor of dwaalspoor geneem te word nie.

Die koronavirus is nie die enigste bedreiging vir onderwysers en leerders nie. Die sosiale isolasie en die impak daarvan moet nie onderskat word nie. Die feit dat kontaksport vir ‘n lang tydperk nie toegelaat was om beoefen te word nie het leerders van hul maats op sportgebied afgesny.  Dit het beslis ’n sielkundige effek op hulle gehad. Die onderwysstelsel is dus belangrik, maar die menslike kapitaal (gesond, gebalanseerd en energiek) is veel belangriker.

Daar kan nie getwyfel word aan die werksetiek en ingesteldheid van onderwysers en skoolhoofde nie. Hulle probeer hul bes in ’n situasie wat niemand voorsien het nie.

Hierdie stryd gaan nie oornag gewen word nie en gaan moontlik nie in ons tyd geskied nie. Die samelewing is onder beleg deur hierdie pandemie en is in ‘n geveg gewikkel wat groot beplanning en strategie sal verg met ’n gevegslinie op alle fronte.

Die onderwys sal nuwe benaderings moet ontwikkel om by die veranderende omstandighede aan te pas.

Ons het baie geleer en gelukkig het ons onderwysers wat kreatief, veerkragtig en innoverend is en kon ons dus met die positiewe ingesteldheid van onderwysers nog tydelik onderwys ondersteun.

Ons kan nie net dinge vanselfsprekend aanvaar nie. Die belangrikheid van ‘n toegewyde en lojale personeelkorps en ondersteunende ouerkorps bepaal beslis die sukses van ‘n skoolomgewing.

Skoolhoof

DF Du Toit