Versterk ons Kultuur
By Laerskool Park bied ons ‘n verskeidenheid kultuuraktiwiteite aan om leerders se kreatiwiteit, selfvertroue en sprekersvaardighede te ontwikkel. Hierdie aktiwiteite moedig deelname, dissipline en ‘n liefde vir kultuur aan.
Redenaars
Ons redenaarsprogram help leerders om hul spreekvaardighede en selfvertroue te ontwikkel. Die jaarlikse interne redenaarskompetisie motiveer leerders om deel te neem aan gesogte kompetisies soos die ATKV, Radikale Redenaars en Oppie-tong-af.
Ons redenaars spandeer baie ure aan voorbereiding en oefening, en ons is trots op die talle streeks- en nasionale wenners wat ons al opgelewer het.
Landsdiens
Landsdiens is ‘n omgewingsgerigte jeugbeweging wat leerders leer om respek vir die natuur en hul medemens te hê. Dit bied ‘n platform vir persoonlike groei deur die ontwikkeling van leierskap, lewensvaardighede, sosiale vaardighede en selfvertroue.
Deelnemers word aangemoedig om ‘n liefde vir die Skepper, medemens, omgewing en arbeid te kweek. Die beweging is oop vir alle leerders met ‘n jaarlikse aansluitingsfooi, en bied ‘n veilige en inklusiewe omgewing waar elke kind hul potensiaal kan uitleef.
Koor
Musiek is ‘n sentrale deel van die kultuurlewe by Laerskool Park. Ons koorprogram bied leerders die geleentheid om hul sangtalent te ontwikkel, selfvertroue te bou en belangrike lewensvaardighede aan te leer. Ons is trots op ons drie gevestigde kore – die Graad R-koor, Juniorkoor en Seniorkoor – wat gereeld by skool- en gemeenskapsgeleenthede optree. Deur deel te wees van die koor, leer leerders die waarde van deursettingsvermoë, terwyl dissipline en toewyding ‘n sleutelrol speel in hul groei en sukses.
By Laerskool Park glo ons dat kultuuraktiwiteite ‘n integrale deel van ‘n kind se ontwikkeling is. Deur deelname aan redenaars, Landsdiens en koor leer leerders waardevolle lewensvaardighede en beleef hulle die vreugde van selfuitdrukking!