Park se Geskiedenis

"Geskiedenis is die stories van gister vir die kinders van môre."
– Anne Swart

'n Ryk Geskiedenis

Laerskool Park het ‘n trotse geskiedenis wat diep gewortel is in Mosselbaai se onderwystradisie. Sedert die eerste skool in die dorp op 1 Februarie 1847 in die konsistorie van die NG Kerk begin het, het onderwys in Mosselbaai ‘n merkwaardige pad gestap. Die oorspronklike skool, bekend as die Dutch Reformed Church School, het slegs seuns toegelaat en is later uitgebrei en herbenoem na The District School in 1855. Gedurende die volgende dekades het die skool verskeie veranderinge ondergaan, insluitend die vestiging van ‘n aparte dogterskool in 1885.

In 1910 is die Mossel Bay Girls’ Public School in Victoria Park gebou, waar Laerskool Park vandag steeds staan. Die fondasiesteen, gelê in 1916 deur Sir Frederick de Waal, is steeds ‘n trotse besitting van die skool. ‘n Unieke vondst agter die steen – ‘n loodkissie met koerante en muntstukke van 1916 – is een van die min sulke gevonde artefakte in Suid-Afrika.

Die groot transformasie het in 1921 plaasgevind toe die Seuns- en Dogterskole geamalgameer het. Die hoër grade is na die geboue in Die Punt geskuif en het Hoërskool Punt geword, terwyl die junior grade op die huidige perseel van Laerskool Park gebly het. In 1925 het die skool kortstondig bekend gestaan as Mossel Bay Special Primary School voordat dit in 1926 sy finale naam, Laerskool Park, gekry het.

Gedurende die jare het Laerskool Park ontwikkel tot ‘n vooraanstaande Afrikaanse enkelmedium skool. In 1993 is ‘n Engelse laerskool, Milkwood Primary, in Mosselbaai gestig, en die Engelse leerders van Laerskool Park is daarheen geskuif.

'n Skool van Tradisie & Toekoms

Laerskool Park bly ‘n skool van trots, tradisie en deursettingsvermoë – ‘n plek waar kinders se drome gevorm en gevier word.

Laerskool Park se leuse, “Volhard – in werk en sport en spel”, is ‘n rigtingwyser vir elke leerder. Die skoolwapen, ontwerp in 1948 deur Mej. Elsabé Heunis, bestaan uit ‘n reddingsboei en ‘n aalwyn – simbole van Mosselbaai se maritieme erfenis en sy inheemse flora.

Deur die jare het Laerskool Park uitmuntende opvoeders en leerders opgelewer. Die restourasie van die skool se vleuelklavier, oorspronklik ingevoer uit Japan in 1967, getuig van die skool se toewyding aan kultuur en musiek. Vandag, met ‘n stewige fondasie in tradisie, bou Laerskool Park voort aan ‘n blink toekoms vir elke leerder wat sy deure betree.